

Deur Melanie Goff |
Ek onthou so duidelik die dag toe ek vir die eerste keer gehoor het my babadogtertjie het miskien Down se sindroom. Sy was 4 maande oud en ek het ewe onskuldig vir die klinieksuster gevra waarom haar tongetjie gedurig uit haar mondjie hang. Die suster het van die geleentheid gebruik gemaak om vir my te sê ons met dit miskien oorweeg om haar te laat toets. My lewe het net daar uitmekaargeval, want ek kon onmiddellik sien sy het ’n punt beet. Die toetse is gedoen en dit was negatief, maar die dokter het gesê sy het moontlik ’n seldsame vorm van Down se sindroom bekend as mosaïsisme. Hoe ook al, ek het geweet ek moes eenvoudig die simptome van die probleem wat my in die gesig gestaar het, die hoof bied. God het haar met ’n rede vir my gegee en ek het besluit om alles in my vermoë te doen om haar te help om haar volle potensiaal te bereik. Ek het alles gelees waarop ek my hande kon lê en het uiteindelik afgekom op ’n wonderlike program, BabaGim, waarvan ek jou graag meer wil vertel.
Teen die tyd dat Bethany 8 maande oud was, het ek met die 5 weke lange Ferm Grondslag-kursus begin en ek kon onmiddellik ’n verskil sien. Tot op daardie stadium was ek uitgeput en gefrustreerd en het ek net van dag tot dag probeer oorleef. Gedurende die eerste week het ek geleer hoe om ’n behoorlike babamassering te doen.
Dit het my aangespoor om op ’n nuwe manier met Bethany te begin bind, en ek as ma het van oorlewingsrat oorgeskakel na oorwinningsrat.
Terwyl ek die voordele van massering ontdek het, was ek verstom en verbyster oor die kragtige uitwerking wat aanraking op ’n baba kan hê. Ek het haar gehelp om meer bewus te raak van haar hande, voete, arms en bene; ek het help voorkom dat sy tasdefensief raak en ek het haar leer ontspan.
Ek en Bethany het week na week getrou volgehou met BabaGim en ek kon nie glo hoe vinnig sy op die oefeninge reageer wat ek vir haar geleer het nie. Ons het elke week ’n ander sintuig gestimuleer, en die week toe ons met die sig gewerk het, was ek werklik verstom. Dit het altyd gevoel asof ek nie tot haar kon deurdring nie. Hulle sê mos die oë is die vensters van die siel, en in haar geval was dit asof daardie vensters net op ’n skrefie oop was. Gedurende hierdie week van stimulasie het dit egter gevoel asof daar ’n liggie in haar brein aangeskakel het en ek vir die eerste keer werklik ’n band met haar gevorm het. Dit het my oortuig dat BabaGim onteenseglik werk, en ek het besluit om meer daarvan te leer. Belangriker nog, ek wou elke mamma help wat haar in dieselfde bootjie as ek bevind het. Ek het dus besluit om ’n Instrukteur te word. Die wêreld wat vir my oopgegaan het, het my verstom en bemagtig om soveel meer vir Bethany te doen as wat ek ooit kon droom.
Bethany moet nog steeds neuro-ontwikkelingsfisioterapie ondergaan. Ek weet egter dat alles wat ek ingesit het en die leiding wat BabaGim verskaf het, deur en deur die moeite werd was wanneer haar terapeut vir my sê hoe “by” en goed geïntegreer sy is. Ek sien elke dag hoe sy vordering maak met haar ontwikkeling en ek wil baie dankie sê vir die enorme bydrae wat BabaGim tot haar lewe gemaak het. Deur my kontak met ’n verskeidenheid terapieë het ek besef dat BabaGim uitstekend nagevors is, want soveel van die terapie is vir my bekend. Dit is ook ’n fantastiese ondersteuningsprogram vir die ouer omdat dit jou bemagtig om huis toe te gaan en voort te gaan om toepaslike beweging en stimulasie te gebruik om jou band met jou kind te versterk.
Bethany het tot dusver elke mylpaal bereik, hoewel later as normaal. Op 2½ jaar is sy effens agter haar tydgenote, maar sy kan haarself heeltemal goed handhaaf. Ek dink sonder die hulp van BabaGim sou ons reis tot hier toe nog baie meer opdraand verloop het. Ek is bitter dankbaar teenoor BabaGim en al die terapeute wat ons gehelp het om hierdie punt in haar lewe te bereik.