Het jy geweet dat daar ’n “goue tydperk” in jou kind se lewe is wat deurslaggewend vir sy of haar toekoms is? Ons 1 000 dae-gids help jou om dié tyd op die beste manier te benut. Deur Conette le Roux
Wêreldwye navorsing het in die afgelope dekade uitgewys hoe waardevol vroeë kinderontwikkeling is. En veral ook hoeveel voordele dit vir ’n land en sy bevolking inhou. Dit het ’n reuseimpak op die nasionale gesondheid, die opvoeding en die ekonomie en die algemene maatskaplike situasie. Dit spreek dus ook vanself dat dit ’n besonder positiewe uitwerking op armoedebestryding het. James Heckman, ’n destydse Nobelpryswenner vir ekonomie, sê dat hoe meer ’n bepaalde land in vroeë kinderontwikkeling belê, hoe groter die dividende in menslike kapitaal is. Dit is dus die beste moontlike belegging wat ’n regering kán maak. Verdere navorsing wys onder meer ook uit dat jong volwassenes wat aan vroeë kinderontwikkeling blootgestel is, tot 40% meer verdien as dié wat nie hierdie voorreg gehad het nie. Eersgenoemde is ook minder vatbaar vir dwelm- en alkoholverslawing en minder tot geweld geneig. Die voordele strek inderdaad wyd. En dit begin by die ouerhuis.
Die goue tyd
Dit is reeds onomwonde bewys dat die eerste 1 000 dae in ’n kind se lewe – dit wil sê van die swangerskaptyd tot die kind se tweede verjaarsdag – ’n deurslaggewende tydperk in ’n kind se ontwikkeling is. Sommige wetenskaplikes verwys dan ook daarna as “die goue tyd”. Dr David Harrison, hoof van die Suid- Afrikaanse befondsingsmaatskappy DG Murray Trust, wat hoofsaaklik op vroeë kinderontwikkeling fokus, is daarvan oortuig dat kinders se lewenslange potensiaal in daardie tyd vasgelê word. Hy wys onder meer op die volgende feite:
- Die meeste breinontwikkeling vind in die eerste drie maande plaas.
- Die brein se optimale “buigsaamheid” is in die tyd tussen swangerskap en ses jaar.
- Wanneer ’n kind nege maande oud is, is hy die meeste vatbaar vir taalontwikkeling.
- Kognitiewe ontwikkeling vind optimaal op eenjarige ouderdom plaas.
En dit hang grootliks van die ouers af, sê die geleerdes, of hierdie goue tydperk aangegryp gaan word of onbenut sal verbygaan.
Wanneer ouers aan vroeë kinderontwikkeling dink, is ‘kleuterskool’ of ‘speelgroepie’ dikwels die eerste prentjie wat in hulle kop kom,” sê Sonja Giese, uitvoerende direkteur van Ilifa Labantwana, ’n vroeë kinderontwikkelingsprogram. Vroeë kinderontwikkeling is egter veel meer as hierdie tradisionele en selfs geykte konsep. “Dit is gewortel in die verhouding tussen ’n ma en haar ongebore kind,” sê Sonja, “en dit duur voort in die verhoudings wat die kind met verloop van tyd met sy of haar geliefdes ontwikkel. Dit is hierdie verhoudings wat uiteindelik sal bepaal hoe ’n kind met die wêreld omgaan, of sy in ’n groep sal floreer, en of hulle uiteindelik hulle volle potensiaal sal verwesenlik. “Hierdie vroeë verhoudings in ’n kind se lewe bou taalvermoë, kognitiewe buigsaamheid, veerkragtigheid, emosionele welsyn en talle ander karaktereienskappe wat die grondslag vir lewenslange gesondheid en ontwikkeling vorm,” sê Sonja.
Stimulering – stap vir stap
Dr Melodie de Jager, opvoedkundige spesialis en die baasbrein agter BabaGim, maak die volgende aanbevelings betreffende verskillende fases in die sogenaamde goue tyd:
Tydens swangerskap
- Eet gesond! Nie te veel nie, maar beslis ook nie te min nie.
- Gaan stap elke dag buite, en asem hope vars lug in.
- Drink genoeg water.
- Wees versigtig wat jy kyk, waarna jy luister en met wie jy praat. Jou baba deel jou emosionele toestand.
- Raak ontslae van negatiwiteit, vrese en angs.
Van geboorte tot drie maande
Die meeste breinontwikkeling vind in dié stadium plaas. Nou is dit belangrik dat die baba gemaklik en veilig voel. Reageer liefdevol en gerusstellend op jou baba se kommunikasie.
- Praat met en sing vir jou baba.
- Hou jou baba gereeld vas, en geniet dié velkontak. Jou reuk, aanraking, stem en hartklop bied die beste moontlike breinontwikkeling aan ’n pasgebore baba.
- Hou jou baba deeglik dop sodat jy sy/ haar kommunikasieseine kan verstaan. Is dit byvoorbeeld ’n “honger-huil” wat jy daar hoor …?
- Reageer op jou baba se seine aan jou. As die ogies helder is en hy is op-en-wakker, is dit speeltyd!
- Gee jou baba iets om na uit te reik of vas te hou – ’n speelding of jou vinger.
- Jy kán nie ’n baba “bederf” nie! Troos jou baba wanneer sy huil, sodat sy veilig en geliefd voel.
- Help jou baba om haar self te kalmeer deur haar vingers na haar mond te lei, of deur vir haar ’n fopspeen of ’n kombersie of ’n sagte speelding te gee.
- Masseer jou baba, elke dag, en van kop tot tone.
Drie tot ses maande
In dié stadium reageer ’n baba al hoe meer op die ouers en versorgers. Jy gaan nou al hoe beter begin verstaan wat jou baba se voorkeure is – hoe sy wil eet, slaap of speel.
- Plaas jou baba in verskillende posisies: Maak seker sy kry speeltyd op haar maag
en rug, en help haar (met rugsteun) om te sit.
- Stel jou baba aan verskillende vorms, groottes, teksture en geluide bloot.
- Reageer op jou baba se seine. As sy glimlag wanneer sy in die spieël kyk, laat haar gereeld toe om dit te doen.
- Beantwoord jou baba se brabbeltaal sodat sy weet jy gee om. Dit leer haar ook om te gesels.
- Help jou baba om roetine aan te leer. Wanneer dit byvoorbeeld slaaptyd is, word alles in dieselfde volgorde gedoen – badtyd, ’n boekie, aandete en dan ’n slaaptydliedjie.
- Sing elke keer dieselfde liedjie wanneer dit voedingtyd is. Só weet jou baba die melk is op pad.
Nege tot 12 maande
In dié tyd word babas goeie kommunikeerders en is hulle die meeste vatbaar vir taalontwikkeling.
- Gesels deurgaans met jou baba. Vertel hom wat tans gebeur en wat nou gaan volg. Byvoorbeeld: “Ná jou melkies is dit slaaptyd.”
- Verbaliseer jou baba se aksies. Sê iets soos: “Jy druk jou kos weg; ek dink jy is versadig.”
- Gee ’n naam vir die dinge waarna jou baba kyk of wys.
- Gee jou baba baie tyd en ’n veilige plek om nuwe vaardighede aan te leer, byvoorbeeld kruip of loop.
- Maak ’n “speelgoed-roete” waarlangs jou kind kan kruip en ontdek.
- Speel wegkruipertjie. Dit help jou kind om te leer dat dinge kan verskyn en verdwyn.
- Maak seker dat jy jou baba groet, omdat dit vertroue bou. Moet nooit net wegloop nie.
- Help jou baba met ’n volgende stap in haar speletjies. As sy byvoorbeeld twee blokkies teen mekaar slaan, help haar om die blokkies op mekaar te stapel.
- Gee jou baba ’n bal, of ’n ratel om te skud. Dit help hulle om te leer hoe dinge werk en dit ontwikkel die spiere in hulle hande.
12 tot 15 maande
Nou wil hulle alles self doen! Hulle hou hulle geliefdes fyn dop en probeer hulle namaak.
- Gee jou kind genoeg hulp om sy doelwitte te bereik. As hy byvoorbeeld wil staan, laat hom toe om aan jou vingers vas te hou ten einde sy balans te behou.
- Laat jou kind toe om nuwe vaardighede te ontwikkel, soos om trappe te klim (met hulp!).
- Kies prenteboeke waarin jou kind sal belangstel – soos dié wat oor diere of ander kinders handel.
- Help bou aan jou kind se woordeskat. Wys na ’n situasie of gebeurtenis en sê dan iets soos: “Die skoolbus ry in die straat af.”
- Speel speletjies wat opdragte insluit, byvoorbeeld deur te vra dat jou peuter die bal vir jou gooi.
- Laat jou kind toe om self bepaalde takies te doen, soos om sy hande te was.
- Volg jou kind se voorkeur. Laat haar byvoorbeeld toe om speelgoed en speletjies te kies.
- Gee haar voorwerpe wat sy gereeld sien om mee te speel, soos (plastiek)borde, ’n (speelgoed)telefoon en ’n klein besempie.
15 tot 18 maande
Jou kleuter gebruik nou reeds sy of haar nuwe vaardighede om ’n goeie probleemoplosser te wees.
- Moedig jou kind aan om sy vingers en hande te gebruik om nuwe dinge te ontdek.
- Speel “Olimpiese Spele”. Stel (veilige) hindernisse op, byvoorbeeld gestapelde kussings waaroor daar geklim moet word.
- Vra gereeld vrae. Byvoorbeeeld: “Wil jy ’n piesang hê?”
- Lees, sing saam en maak rympies en stories op.
- Lees boekies wat oor gevoelens en emosies handel.
- Laat jou kind toe om dieselfde aktiwiteite te herhaal.
- Voeg iets by sodra jou kind iets geleer het. As sy ’n bal kan gooi, gee haar ’n groot houer om die bal in te gooi.
- Bly kalm tydens ’n vloermoer. Haal diep asem en moenie reageer nie. As jy kalm bly, sal jou kind vinnig hiervan herstel.
18 tot 24 maande
Tydens dié fase begin kleuters dikwels land en sand gesels. Hulle begin ook om voor te gee, wat ’n reuse-stap in hulle ontwikkeling is.
- Verander jou kind se frases en woorde in sinne. Sy sal byvoorbeeld sê: “Nog melk!” Dan sê jy: “Jy wil nóg melk in jou beker hê.”
- Vra jou kind vrae oor die prentjies en stories wat julle saam kyk en lees.
- Verwoord jou kind se emosies. Iets soos: “Ek weet jy is kwaad omdat ek die TV afgeskakel het, maar wil jy nie nou met jou blokkies speel nie?”
- Speel ook die “voorgee-speletjie”: Maak asof jy ’n hondjie is.
- Begin om jou kind se verbeelding te stimuleer met snaakse klere/kostuums, diertjie-figure en blokkies.
- Help jou kleuter sorteer, soos om al die sokkies op een hopie te gooi.
- Moedig jou kleuter aan om te ontdek. Maak byvoorbeeld ’n binnenshuise “sandkas” met droë hawermout of blare.
- Help jou kind om ’n probleem op te los, maar moenie alles vir haar doen nie. Begin met legkaarte met net so drie of vier stukke.