

Deur Dr Melodie de Jager |
Babas lees, maar nie boeke nie. Hulle lees gesigte. Hulle lees gedrag. Hulle lees hul omgewing. Hulle is meesters daarin om hul spieëlneurone te benut om dit wat hulle ‘gelees’ het, te weerspieël. Hul natuurlike leesvermoë gaan oor dinge wat werklik is, nie dit wat plat op ’n bladsy is nie.
Dit is ongeveer teen 8 maande dat ’n baba se visie en brein genoeg ontwikkel het om te ‘lees’ wie bekend is en wie ’n vreemdeling is. Dit is ’n groot mylpaal in visuele ontwikkeling. Baba ontwikkel visuele persepsie, diskriminasie (om van mekaar te onderskei), analise (om uitmekaar te haal) en sintese (om bymekaar te sit). Dit is die gevolg van baba se uitvoerende funksies van die brein wat nou goed ontwikkel word. Maar let op: baba lees spontaan dit wat TASBAAR is. Boeke is tasbaar, maar prente is nie tasbaar nie. Tablette en selfone is tasbaar, maar die beelde daarop is nie tasbaar nie.
Optometriste bevestig dat dit min of meer sewe jaar neem vir die oë om genoegsaam te ontwikkel om met gemak te lees. Hulle sal jou ook vertel dat indien babas en kinders meer tyd aan prente en beelde spandeer as aan kruip, klim, hardloop, vang, skop en drukkies gee, hulle geneig is om miopie (bysiendheid) te ontwikkel en die liefde vir lees te verloor nog voordat dit begin.
Lees is ’n aangeleerde vaardigheid wat begin wanneer iemand wat kan lees, tyd saam met ’n baba of peuter deurbring om vreugde te deel en betekenis aan krabbels op papier te gee. Krabbels verteenwoordig klanke. Om te ontrafel watter krabbel watter klank of klanke verteenwoordig, neem byna nege jaar. Letters en woorde is abstrakte konsepte, en slegs kinders wat ’n liefde vir lees ontwikkel het, leer om met vreugde te lees.
Om vir jou baba te lees, is ’n wonderlike gedeelde aktiwiteit wat hulle help om te kalmeer, en daarom word die meeste stories saans rondom slaaptyd gelees. Jou baba verstaan dalk nie ’n enkele woord of herken ’n enkele prent nie, maar jou baba of kleuter sal die nabyheid en onverdeelde aandag geniet. Jou baba sal hande klap wanneer hulle jou met ’n boek sien, en jou peuter sal ’n boek gaan haal, omdat die boek ’n wonderlike verhoudingsanker tussen julle is.
Kinders vir wie daar gedurende hul vroeë jare gelees word, is meer geneig om op ’n gepaste ouderdom te leer lees.

Om vir ’n baba of peuter te lees, ontwikkel:

Albert Einstein is gevra: ‘Hoe kan ek seker maak my kind is intelligent?’ Sy antwoord: lees stories vir jou kind. ‘En as ek wil hê my kind moet regtig slim wees?’ Lees nog meer stories vir jou kind.
Taal is die instrument van denke. Sonder taal is dit moeilik om te dink, en dit is dikwels een van die redes waarom kinders byt – hulle byt omdat hulle sukkel om hulself uit te druk. Maar dan moet ons ouderdomsgepaste boeke lees. Boeke wat nuuskierigheid prikkel, nie frustrasie aanwakker nie.
Vir ’n baba van hierdie ouderdom beteken ‘lees’ om mense en voorwerpe uit te wys en te benoem. Dit behels ook om jou eie ‘boeke’ te skep met prente van familielede, diere en voorwerpe waarvoor hulle lief is.
Maak seker stories is ouderdomsgepas en dat die boek lewendige, kleurvolle prente het sonder te veel detail. Jy gaan dieselfde storie oor en oor lees; benader die storie elke keer vanuit ’n vars hoek en wees oorspronklik!
Om vir jou baba te lees, skep ’n geleentheid om woordeskat, verbeelding en redenasievermoë te ontwikkel. Dit is ’n prettige bindingsaktiwiteit wat ook bydra tot ’n rustige nag se slaap, omdat baba geliefd en gekoester voel. Om mettertyd saam te lees, ontwikkel ’n liefde vir boeke en leer!