Liewe mamma, my eerste lewensjaar is vol opwindende mylpale. Ek het vir jou ’n briefie geskryf sodat jy sal weet wat jy in die eerste 12 maande van my lewe kan verwag.
DEUR RIËTTE GROBLER
Wat is mylpale?
Dit is ’n stel vaardighede wat die meeste kinders teen ’n sekere ouderdom bereik, sê dr. Sarah Batchelor, ’n Johannesburgse pediater. Dis ook bakens wat wys dat baba vorder, voeg dr. Melodie de Jager, stigter van die BabaGim-instituut, by.
Ontwikkeling gaan nie oor jou baba se lengte of gewig nie, maar oor die vaardighede wat hy bemeester sodat nuwe lae van die brein ontwikkel en met ander dele begin saamwerk, sê sy.
Is iets fout?
Dit is belangrik om te onthou elke baba uniek is en teen sy eie pas ontwikkel. As jy egter agterkom iets skort, is dit beter om by ’n dokter uit te kom, sê Sarah.
Rooi ligte kan insluit dat jou baba teen twee maande steeds baie styf óf slap is en nie kopbeheer het nie; teen vier maande nie op klanke reageer nie en teen ses maande nie na voorwerpe uitreik nie of sukkel om hom self regop te hou.
Onthou!
Gee baie aandag aan jou kind se emosionele ontwikkeling sodat sy eie-ek-emmer propvol is, sê Melodie.
Speel baie – dis belangriker as duur klere, temapartytjies en tegnologie
1 MAAND
- Ek huil, tjorts en slaap meestal. Maar moenie dink ek lê en niksdoen nie – ek leer my wêreld ken. Ek kan sowat 30 cm voor my sien – net reg om mamma se gesig mooi te bekyk terwyl jy my borsvoed.
- Teen my vierde week volg ek groot voorwerpe met my oë tot by die middellyn, maar verloor gou belangstelling.
- Reflekse beheer my bewegings. My arms en bene waai woes. Al is my armbewegings rukkerig, kan ek my handjies tot naby my mondjie bring. My stywe vuisies gaan soms oop en as Mamma se vinger in my palm lê, sluit my vingertjies styf daarom toe.
- Ek lig my koppie vir ’n kort rukkie op en draai kant toe as ek op my magie lê.
- As ek op my rug lê, kyk ek meestal in dieselfde rigting as my uitgestrekte arm.
- My ogies knyp styf toe om dit teen lig te beskerm en ek nies en hik dikwels.
- Huil is my eerste vorm van taal en ek laat jou daardeur verstaan wat ek nodig het.
WENK
Die beste ding wat jy in die eerste paar lewensmaande vir jou baba se ontwikkeling kan doen, is om haar lief te hê, vas te hou en met haar te praat, sê die Johannesburgse pediater dr. Sarah Batchelor.
Neem baba op uitstappies park toe, praat gedurig met haar, wys haar nuwe dinge (vir kort rukkies), trek snaakse gesigte en kielie haar. Sy het nie babastimulasieklasse of spesiale aktiwiteite nodig nie.
2 MAANDE
- Mamma, ek weet jy is doodmoeg omdat ek jou so baie wakker hou, maar dié maand gaan ek jou dalk beloon vir jou harde werk met ’n tandlose glimlag.
- Ek raak van my omgewing bewus. My gehoor verbeter en ek is mal oor die klank van jou stem; ek word skoon stil as jy praat.
- Ek suig my vinger of vuis om te bedaar.
- My sig is goed genoeg dat ek weet hoe jy lyk. Ek gryp na kleurryke voorwerpe wat ’n armlengte van my af wink. Ek weet nog nie hoe om iets te laat los wat ek vasgegryp het nie.
- Ek begin tussen kleure onderskei, en primêre kleure is my gunsteling.
- Nekbeheer word makliker, maar jy moet my kop steeds ondersteun wanneer ek regop gehou word.
3 MAANDE
- My gunstelingaktiwiteit is interaksie. Ek is mal daaroor om reaksies dop te hou en leer so kommunikeer. Ek is in ekstase oor ma en pa se teenwoordigheid, maar glimlag ook vir ander mense. Ek maak vokale klanke (“o” en “a”).
- Ek stel ál meer in my omgewing belang en die gevoel van verskillende teksture is aangenaam.
- As ek op my magie lê, kan ek my kop en bors vir kort rukkies oplig en op my rug sal ek met my voete skop. Jy gaan nat word as ek bad – ek spat ál meer!
- My hand-en-oog-koördinasie verbeter en ek volg voorwerpe met my oë.
- Ek raak meer gewoond aan dag-ennagsiklusse.
WENK
Maak serpe van verskillende kleure en materiale in jou laaikas bymekaar en laat baba daarmee speel om haar aan teksture bloot te stel.
4 MAANDE
- My lyfie word ál aktiewer en ek doen ’n wonderlike ding: Ek kan tot op my ruggie rol as ek op my maag lê! Al moet ek dit self sê, is dit regtig oulik wanneer ek daarin slaag om my voete in die hande te kry – hulle is lekker speelgoed en fassineer my.
- Ek kan my kop sonder ondersteuning regop hou en my hande by die middellyn bymekaarbring.
- Wanneer ek klanke hoor, kyk ek om my rond. Ek koer in afwagting van bekendeaktiwiteite.
- Ek kommunikeer meer – mamma se gesigsuitdrukkings is vir my bekend en sy leer myne verstaan. Ek maak ’n groter verskeidenheid klanke.
- Die buitewêreld word interessanter en ’n verskeidenheid speelgoed trek my aandag.
- Ek verken alles met my mond (dis die rede vir al die gekwyl, mams!).
5 MAANDE
- Ek is ’n vrolike skepseltjie wat baie lag en babbel. As Mamma by die vertrek instap, raak ek opgewonde en as jy wegstap, maak dit my vies.
- My lyfie word groter en sterker en ek rol heen en weer. As ek op my magie lê, hou ek daarvan om my op my arms regop te druk.
- Ek kan met ondersteuning staan en is gaande oor ’n gebons. Ek begin ook leer om self te sit, met kussings om my val te keer.
- My vingertjies kry dit beter reg om voorwerpe vas te hou en ek kan my ratel skud.
- Klanke trek my aandag en ek probeer dit naboots.
- My sig verbeter en prenteboeke is mooi.
- Teen hierdie tyd ken ek my roetine en het ek gereelde slaaptye.
WENK
Wakker baba se bewustheid van haar lyfie aan deur haar op haar maag op ’n groot oefenbal te laat lê wat jy alkante toe rol.
6 MAANDE
Hoera, die halfjaarmylpaal! My geboor te gewig het verdubbel en ek is reg vir vastekos.
- Ek is baie aktief en begin op my eie sit met my armpies reguit voor my en my palms op die grond.
- My nekspiere is sterk – as ek op my rug lê, kan ek my kop optel om my toontjies te bekyk.
- Soms raak ek gefrustreerd omdat die dinge wat ek wil doen of sien buite my bereik is. Gelukkig kan ek nou my handjies na speelgoed uitstrek. Ek laat val een speelding om ’n ander op te tel en staan stewig as ek vasgehou word.
- Ek trek jou aandag met klanke en begin woorde herken. Ek luister aandagtig na my naam. My woorde het nie betekenis nie, maar ek kan met mamma ’n gesprek voer. My gehoor verskerp en speelgoed wat ’n geraas maak is hope pret.
WENK
Praat baie met jou baba en vertel haar wat julle sien en doen – of julle nou gaan melk koop, of park toe gaan. So leer sy hoe klanke en woorde by voorwerpe pas.
MAAND 7
My lyfie is sterker en ek kan sonder ondersteuning met ’n regop ruggie sit. Rol is plesierig en omdat kruip om die draai is, lig my een knie in die rigting van my magie om die kruipbeweging te oefen.
- Ek kan my teen meubels optrek, maar ek kan nog nie sonder hulp gaan sit as ek staan nie.
- Ek oefen die knypbeweging van my duim en voorvinger, hou voorwerpe stewig vas en kan iets van die een hand na die ander aangee. Versigtig met jou bord kos aan die eetkamertafel – ek kan kos uit jou bord gaps en op die tafel slaan!
- Speel op die grond is pret en ek bestudeer voorwerpe aandagtig.
- Ek vind meer maniere om te kommunikeer en strek my armpies uit om opgetel te word.
- My persoonlikheid word ál duideliker.
- Ek’s skaam vir vreemdelinge.
WENK
Babas moet toegelaat word om te kyk, te voel en te vat omdat dit is hoe hulle leer. Hou baba veilig, maar moet haar nie ontneem van die geleentheid om te verken nie, sê Lausanne Hugo, ’n Pretoriase maatskaplike werker wat in spelterapie en gesinsberading spesialiseer.
MAAND 8
Ek beweeg baie en kom waar ek wil wees, of ek nou soos ’n slangetjie op my magie gly, of selfs begin kruip.
- Ek kan sonder ondersteuning sit en my uit ’n sittende posisie optrek. As ek op my rug lê, kan ek na my maag omrol.
- My knypgreep is meer akkuraat en ek kan my hand doelbewus oop- en toemaak.
- Ek kan vir mamma my speelding aanbied, maar weet nog nie hoe om dit te laat los nie.
- Ek wys na dinge wat my aandag trek.
- Speel is lekker, maar my aandagspan is kort. Darem besef ek jy is nie vir altyd weg as jy uit die kamer loop nie.
- Herhaling van klanke soos “na-na-na” en “da-da” hou my besig en dalk sê ek my eerste woord (hopelik “ma-ma”!).
- Ek verstaan wat “nee” beteken.
WENK
Kruip is soos om jou doktersgraad cum laude te behaal, sê Melodie. “Dis moeiliker as loop. Daar moet soveel bedrading in plek wees en aan mekaar gekoppel word voor ’n baba kan kruip, dat elke kruipende baba ’n gróót partytjie verdien!”
Volgens Melodie moet ’n baba minstens agt weke lank kruip voor sy begin loop.
Moet liefs nie ’n loopring gebruik nie omdat babas eintlik daarin hang.
As hulle gereed was om te loop, sou hulle. Dit gaan nie net oor die spiere nie, die sintuie en baba se beeld van die wêreld moet ook aanpas van lê na sit en van kruip na staan. Dit kos tyd en daar is geen haas nie.
MAAND 9
As ek al kruip, sal ek nou kan begin omdraai. Dis vir my lekker om verskillende posisies te beproef, soos om self te gaan sit en in ’n ander posisie in te beweeg uit ’n sitposisie.
- Ek hou van in- en uitpak (veral van die kombuiskaste!) en wil elke hoekie van die huis verken omdat ek so nuuskierig is. Met twee blokkies kan ek ’n toring bou, maar as jy die blokkies by my wegvat, sal ek wys ek’s ongelukkig.
- Ek is mamma-vas en skrik dalk vir dinge waarvoor ek vroeër nie bang was nie.
- Ek reageer op my naam, kan klanke naboots en leer roetines ken soos om tatta te waai.
MAAND 10
Ek leer blitsvinnig. Dis ’n heerlike speletjie om iets te laat val en te wag dat jy dit optel. Ek kan voorwerpe soos ratels nou op die regte manier begin gebruik, kan piepklein goedjies optel en kan my handjies klap en waai.
- Hou die trappe dop, ek sal binnekort begin afklim. Ek kruip vir Klaas Vakie weg deur my in my kot op te trek. As jy my help staan, plaas ek meer gewig op my eie bene.
- Ek kan my self met my vingers voer en my bekertjie vashou.
- Geselsies is te lekker en al het my woorde nie betekenis nie, verstaan ek meer van wat jy sê as wat jy dink. Ek kommunikeer veral met gebare.
- Teen ’n volle 10 maande sal ek my voet of arm uitsteek wanneer jy my wil aantrek.
MAAND 11
Toet-toet, mamma!
Ek kruip nou soos die blits. Ek hou veel meer daarvan om regop te wees as om te lê en gee jou opdraande as jy my doek ruil.
- Deesdae doen ek meer as een ding op ’n slag, soos om te kruip terwyl ek iets vashou.
- Wanneer ek teen meubels opstaan, kan ek self gaan sit.
- Ek kan afbuk om iets van die grond af op te tel wanneer ek met die ander hand aan iets vashou.
- Meer gesofistikeerde speletjies, soos om ’n bal te rol, word pret. Ek kan ook self deur my boekie blaai, al is dit nie noodwendig in ’n logiese volgorde nie. My konsentrasie verbeter en ek kan vir langer tye luister, kyk en speel. Sommige van my woorde het nou betekenis.
WENK
Plaas meubels op die regte afstand van mekaar af om dit vir baba maklik te maak om van meubelstuk na meubelstuk te beweeg. Dit is ’n boublokkie vir loop.
MAAND 12
Veels geluk, liewe ekke!
- Ek het meer begrip en het ’n goeie humorsin.
- Wanneer ek iets beetkry, probeer ek uitwerk wat dit doen.
- My geheue is ook al baie beter en ek kan al sekere diere en hul klank bymekaar pas. Ek het selfs ’n gunstelingboek.
- My selfvertroue is goed en ek durf trappe aan en stoot ’n waentjie.
- Ek wriemel deur nou plekke.
- Ek staan dalk al op my eie en kan nou enige dag my eerste tree gee – maar mamma moenie stres as ek eers binne die volgende paar maande begin loop nie.