Deur Cozette Laubser |
Hierdie artikel kom na ‘n seisoen saam met voorskoolse personeel op die vloer van die babaklas. Tydens ons sessies het ek baie oor die personeel se vreugdes en frustrasie geleer. Hul hoogtepunte sluit meestal in die opwinding wat hul ervaar soos babas groei, hoe hulle ontwikkel en transformeer van passiewe klein babas tot bekwame klein wesens. As ek dit hoor, dink ek “JA! As dit hulle opgewonde maak, is die regte mense is in die klas!”. Aan die ander kant loop frustrasievlakke hoog en is hul eenvoudig uitgeput. Ouers kan veeleisend wees en soms verwag werkgewers die energievlakke van ‘n 18-jarige, die wysheid van ‘n afgetredene en die immuunstelsel van ‘n onsterflike. Die werklikheid is ongelukkig dat die babaklas van 12 in die sorg gelaat word van ‘n onderwyseres en haar assistant wat totaal oorstu is.
Volgens die Suid-Afrikaanse regeringsregulasies en -beleid vir registrasie van vroeëkinderontwikkelingsentrums, moet daar vir kinders 0-18 maande 1 onderwyser vir elke 6 babas/peuters wees. In die meeste gevalle beteken dit 1 onderwyser en 1 klaskamerassistent per klas van 12.
Het ek pas gesê 12 babas? Dis korrek, 12 babas.
1 Baba op ‘n slag het my party dae geknak, daardie syfer laat my heeltemal sprakeloos.
Die pasgebore brein weeg ongeveer 350g by geboorte en ‘n yslike 1kg teen die tyd dat die baba hul eerste verjaardag vier. Dit beteken die brein verdriedubbel amper in grootte in slegs 12 maande! Om dit in perspektief te plaas, weeg die brein van ‘n 6-jarige 1,2kg en die brein van ‘n volwassene tussen 1,4 – 1,5kg.
Raai wie vorm die baba se brein in hierdie fenomenale jaar? Die persoon wat die grootste deel van die dag saam met die baba deurbring. Is dit die ouer? Is dit ‘n versorger? Is dit die babaklasonderwyseres? Of is dit Ouma of Gogo? Maak nie saak wie die titel dra nie, vir die doeleindes van hierdie artikel kan ons die persoon netsowel die Meester Breinvormer noem.
Vir die volgende paar paragrawe wil ek my graag verbeel dat ons die besigheidsmodel vir die versorging van babas op sy kop kan draai. Kom ons maak asof dit glad nie ‘n besigheid is nie en dat winste nie saak maak nie. Dat ons net hoef te doen wat ouderdomsgepas is en ideaal vir die ontwikkeling van die baba.
Die baba – hierdie magiese klein mensie met ’n briljante brein.
Kan ons dit doen? Reg, kom ons gaan aan!
Drie afsonderlike lae van die brein is verantwoordelik vir 3 verskillende funksies. Al drie lae is teenwoordig by geboorte, maar ontwikkel op verskillende tye en teen verskillende tempo’s. Ons noem hierdie sensitiewe periodes wat geoptimaliseer moet word vir ouderdomsgepaste breinontwikkeling.
Fisiese ontwikkeling sluit in om al die sintuie wakker te maak en al die spiere te versterk. Dit is ook die tyd wanneer ‘n baba grootmotoriese (grootspier) mylpale bereik soos om te suig, die kop te beheer, na beide kante toe te rol, sonder ondersteuning te sit, hande-viervoet te kruip, op te trek en te loop.
Emosionele ontwikkeling gaan alles oor die ontwikkeling van emosies en die eie-ek. Dit is ‘n baie selfsugtige tyd in ‘n kind se lewe. Dit gaan alles oor EK, SELF, MYNE ensovoorts. Dit is die enigste tyd in ‘n mens se lewe wanneer dit aanvaarbaar is om selfsugtig te wees, gun hulle asseblief die geleentheid. Dit beteken nie dat hulle nie met tyd hoef te leer om te deel nie, dit beteken net dat hulle nog daardie vaardigheid moet aanleer en dat dit min of meer ouderdomsgepas is om aanvanklik nie te wil wag, deel en beurte maak nie.
EK voor ONS
EK verwys na my eie liggaam en emosies, ONS verwys na die mense om my. Dit is ‘n tydperk wanneer een-tot-een aandag ‘n móét is om die emosionelebrein te ontwikkel. Sodra die emosionelebrein op koers is, volg sosiale ontwikkeling spontaan. Nou kom wag, deel en vriende maak vanself.
Kognitiewe ontwikkeling verwys na die slim deel van die brein. Wanneer die meeste mense oor die brein praat, praat hulle van hierdie deel. Dit is waar meer gevorderde vaardighede lê. Vaaridghede soos impulsbeheer, taalvermoë, redenering, probleemoplossing, woorde, getalle ensovoorts.
Wanneer ons leer oor die sensitiewe periodes vir breinontwikkeling, maak die baba, peuter en kleuter se leerbehoeftes soveel sin.
Kom ons ondersoek ‘n paar praktiese maniere waarop ‘n babaklas en die omgewing opgestel kan word om optimale brein- en liggaamsontwikkeling te ondersteun in ‘n tydperk wanneer dit die meeste saak maak.
Taal
Die onderrigtaal moet duidelik gekommunikeer word en vas wees. As die skool homself as ‘n Engelse skool posisioneer, is dit al taal wat by die skool gepraat word. Maak nie saak hoeveel tale ‘n onderwyseres of ‘n kind kan praat nie, die taal van kommunikasie binne daardie 4 mure bly konsekwent Engels. Hoe meer konsekwent die skool hiermee is, hoe vinniger en beter sal die kinders se onderrigtaal vestig.
Dr Melodie de Jager, die stigter van BabaGim sê: “‘n Kind moet vir ten minste 3 jaar in ‘n taal speel en leer, voordat hulle gereed is om te leer lees en skryf in daardie taal.” Die meng van tale lei tot taalagterstande. Taalrolmodelle, soos ouers en onderwysers, moet konsekwent by die gekose taal bly. By die huis praat jy die huistaal, by die skool praat jy die onderrigtaal. Kinders besit die fenomenale vermoë om albei tale (en meer!) aan te leer indien die taalrolmodel duidelik praat, ‘n goeie woordeskat het en net by 1 taal hou.
Kleredrag
’n Skoolhoof het haar kommer oor ouers se klerekeuses vir die kleingoed met my gedeel – deftige klere en onvanpaste skoene. Formuleer en kommunikeer die ontwikkelingsetos ten opsigte van kleredrag vir jou skool duidelik. Dit wil sê, “By hierdie skool is die beste skoene geen skoene nie en die beste klere is gemaklike klere wat beweging en verkenning aanmoedig”. Jy kan pret hê met borde op die speelgrond wat lees: “Hier word moddervlekke soos kentekens gedra” of “Hier staan spoggerige klere oor tot fotodag!”
Toestelle
Nog ‘n skoolhoof het gesê die aankoms soggens kan ‘n kopseer wees. Sommige ouers verwag dat die onderwyseres ‘n kind moet groet en dadelik die een moet wees wat met die kind worstel om die slimfoon in die hand weer terug aan die ouer te besorg. Wat ‘n negatiewe begin tot die dag!
Grense is ‘n goeie manier om goeie verhoudings tussen ouers en onderwysers te bevorder. Kommunikeer jou standpunt duidelik. D.w.s. “Jy betree ‘n tegnologievryesone. Hier floreer ons op oogkontak, groot drukkies en ‘ek is lief vir jou’. Toestelle bly sommer snoesig in die motor.”
Babas en kleuters moet vir die grootste deel van die dag op die vloer wees. Dr Melodie de Jager sê: “As jy beweging beperk, beperk jy ‘n baba se potensiaal om te leer en te ontwikkel.” Dit beteken dat hulle ‘n volwasse metgesel nodig het wat op ooghoogte kan kommunikeer en saam met hulle kan beweeg. ’n Versorger wat nie gemaklik op die vloer kan kom of van die vloer af kan opstaan nie, sal staatmaak op stoeltjies en toestelle om die baba hoër te posisioneer. Onthou, die eerste jaar is ‘n deurslaggewende jaar om die liggaam, en wat dit kan vermag, te ontwikkel.
Jong babas is afhanklik van baie naby-gesig oogkontak om gesigsuitdrukkings aan te leer en mettertyd te bemeester. Die lees van gesigsuitdrukkings lei tot die lees van ongeskrewe emosionele, sosiale en kommunikasie reëls.
Elke brein is toegerus met spieëlneurone. Spieëlneurone is ‘n tipe breinsel wat gelyk reageer wanneer ons ‘n aksie uitvoer en wanneer ons sien hoe iemand anders dieselfde aksie uitvoer. Dit is waar die gesegde, ‘Monkey see, monkey do’, in die kol is. Nie net vorm die Meester Breinvormer die brein nie, maar hierdie rolmodel vorm ook die kind se gesigsuitdukkings en liggaamstaal. Dit is so belangrik dat hierdie persoon se houding, postuur en energievlakke modelleer wat ons in klein mense wil aanmoedig.
Volgens die Suid-Afrikaanse regeringsregulasies en beleid vir registrasie van vroeëkinderontwikkelingsentrums benodig elke baba ‘n vloergrootte van 2m2 binne, elke peuter ‘n vloergrootte van 1,5m2 binne en 1m2 per kind buite. Maar kom ons neem in ag dat die meeste babaklasse in ouderdom van 0 tot 18 maande wissel. As jy 1 baba het met ‘n vuil doekie wat blitsig geruil moet word en jy het 1 huilende baba wat dringend vertroosting nodig het, laat dit die ander 10 babas sonder volwasse hande.
As ons passiewe babas jonger as 5 maande het wat op die vloer lê (wat aangemoedig moet word vir liggaamsontwikkeling!) en ons het entoesiastiese lyfies wat al rats kruip en loop, maar wat nog leer om hul ledemate en die spoed waarteen hulle beweeg te beheer, is dit nie ‘n kwessie van sal ‘n maat ‘n hou kry nie, maar eerder wanneer en hoe hard.
Dit is geen verrassing dat babaklasse toestelle soos hoë stoeltjies, bonsende stoeltjies en loopringe inspan om die jonges hoër te plaas en veilig van hul makkers te hou nie. MAAR, en dit is ‘n groot maar, dit is ‘n tydelike oplossing wat die langtermyndoelwit ondermyn. As ons breinontwikkeling wil bevorder, moet ons die brein se behoefte om te beweeg prioritiseer. ‘n Veiliger en meer praktiese manier om die groep te verdeel, is volgens hul beweeglikheid.
Dit is nie ons aanbeveling dat babas jonger as 4 maande by ‘n groepklas aansluit nie. Geboorte tot 4 maande is ‘n tyd van enorme aanpassing vir die totale senuweestelsel en die beste plek vir daardie baba om te wees is by die mamma. As dit op mamma se bors is, nog beter! Wanneer mamma en baba saam in ‘n koesterende en ondersteunende omgewing is, volg immuniteit, binding, melkproduksie en brein- en liggaamsontwikkeling natuurlik.
Indien ‘n baba voor 4 maande aansluit, is dit noodsaaklik om:
Baie kinders kom kort na sonsopkoms by die kleuterskool aan en word net voor sononder by die kleuterskool afgehaal. Vir hierdie kinders word die wêreld en wat dit behels gevorm deur wat tussen die 4 grensmure van die kleuterskool plaasvind.
Kan ons droom oor ‘n skoolomgewing wat so natuurlik en heilsaam as moontlik is? Kinders moet met hul sintuie leer en met hul spiere beweeg. Natuurlike elemente soos water, grond en sonlig is nie net goed vir plante nie, maar ook vir groeiende breine.
Die natuur is per definisie dinamies. Wind beweeg deur plante en hulle beweeg. Insekte en voëls kom en gaan en saam met hulle die geluide wat hulle maak. Deur bloot in hierdie omgewing te wees word die baba en peuter na hierdie wonderwêreld van die natuurlike lewe genooi. “Kom kleintjie, wink die tuin, daar is soveel om te verken en te geniet!”.
Beleid meld dat babas en peuters saam gegroepeer kan word vanaf geboorte tot en met 18 maande, 12 op ‘n slag. Tog vra ons ingebore biologie vir ‘n hoogs reaktiewe en entoesiastiese rolmodel wat deurlopend interaksie bied. As ‘n samelewing moet ons verken hoe ons die beste na beide ons kinders en ons onderwysers kan omsien. Wat in die eerste 18 maande gebeur, vorm die kind vir die res van hul lewe.
Wanneer mens ‘n babaklas inrig met die kind sentraal tot dit wat jy bied, mag dit aanvanklik nie veel finansiële beloning bied nie. Maar, wanneer jy hierdie klas volg deur jare 2, 3, 4, 5 en 6 en jy vind die kinders is gelukkig, goed aangepas, emosioneel geborge, jy sien week na week hoe hul nuwe uitdagings trotseer en steeds bly groei in intelligensie, dan maak dit alles ontsettend baie sin.
Dit begin alles by die babaklas!