Deur Cozette Laubser |
Soms bestaan ‘n skool uit die beste fasiliteite, maar die kernbeginsels vir voorskoolse leer word totaal en al afgeskeep. Die gemiddelde ouer is nie ‘n spesialis in Vroeë kinderontwikkeling (VKO) nie, ‘n ouer se posbeskrywing is lank genoeg, baie dankie! Dus, hoe sou mens nou eintlik weet of ‘n skool die beste opsie vir jou kind is?
Aangesien ons nie kan raai watter kennis in die toekoms die nodigste sal wees nie, is dit sinneloos om dit vooraf te probeer oordra. In plaas daarvan moet ons doel wees om kinders te vorm wat so lief is vir leer en so maklik kan leer, dat hul vorentoe begryp wat begryp moet word. – John Holt
Daar is ‘n paar basiese beginsels wat in elke kleuterskool hoort. Hulle sluit in:
Konkrete leer verwys na die multi-sensoriese en bewegingsrykheid van speelse leer gedurende die eerste ses jaar van ‘n kind se lewe. Konkrete leer op sy beste beteken dat jy die voorwerp kan aanraak, ruik, proe, hoor en sien, asook dit kan verken en tussen jou hande kan manipuleer. Dus, is die hele liggaam, insluitend die sintuie en spiere, betrokke by ontdek en leer op ‘n konkrete vlak. Voorwerpe wat konkreet is sluit alle 3-dimensionele voorwerpe in – stokke, akkers, klippe, potte, panne, poppe, motors, balle ens.
Multi-sensoriese ervarings behels die gebruik van meer as een sintuig op ‘n slag. Hoe meer hoe beter! Bak-en-brou is byvoorbeeld ‘n multi-sensoriese ervaring: Jy gebruik jou tassintuig / aanraking wanneer jy die deeg knie, jy ruik en proe die beslag, daar is klank betrokke by die gebruik van houtlepels en mengbakke, en die oë neem die hele proses waar. Wanneer babas, peuters en kleuters betrokke raak by die werklike lewe, dit wil sê multi-sensoriese ervarings, is minder herhaling nodig om die brein te bedraad, want die intensiteit van die ervaring is hoog en die leerervaring is pret. Die brein floreer op hierdie tipe ervaring!
Gee my asseblief genoegsame tyd om my wêreld te ervaar. Laat ek aan ‘n boom raak en die reën ruik, die sonsondergang sien en die voëls hoor. Daarna, wanneer ek daardie woorde lees en skryf, sal ek verstaan wat hulle werklik beteken – Onbekend
Grootmotoriese ontwikkeling verwys na die beweging van die grootspiere van die liggaam. Tipies, die spiere wat nodig is om te rol, sit, kruip, loop, klim, dans, hardloop, stoot, trek, skop, gooi, spring, klim, vang en stop. Grootmotoriese ontwikkeling vorm die grondslag waarop alle verdere ontwikkeling volg, moenie hierdie belangrike deel van ‘n kind se ontwikkelingsbehoeftes afskeep nie!
Hoe meer fisies die spel is, hoe groter is die ontwikkelingswaarde – Dr Melodie de Jager
Fyn beteken klein en motories beteken beweging. Fynmotoriese ontwikkeling verwys na die beweging van die kleinspiere van die liggaam. Die fynmotoriese spiere van die liggaam sluit in die mond, hande en vingers, voete en tone en laastens die oë. By die baba ontwikkel fynmotoriese vaardighede met onafhanklik eet. Later, deur te leer om botteldoppies aan en af te skroef en vorms in ‘n houer te plaas. Vir die voorskoolse kind ontwikkel fynmotoriese ontwikkeling steeds wanneer hul leer om aan en uit te trek, selfstandig toilet toe te gaan, ensovoorts. In die kleuterskool is fynmotoriese vaardighede wat die hande insluit gewoonlik die bekendste. Dit is die spiere wat nodig is om met klei te speel, kuns te skep, te teken, te verf, met ‘n skêr te knip, te plak, te bak, ‘n skoenveter vas te maak en nog meer.
Taalontwikkeling kan in twee dele verdeel word, reseptiewe taal en ekspressiewe taal. Taal is die instrument van die denke. Sonder taal is dit vir jou kind byna onmoontlik om te kommunikeer wat hy/sy nodig het, om vriende te maak, om te leer en vir die brein om tot sy volle potensiaal te ontwikkel.
Taalontwikkeling begin by reseptiewe taalontwikkeling. Reseptiewe taal is om woorde te hoor en te verstaan lank voordat jy die woorde kan uitspreek. Goeie taalrolmodelle by die huis, en later by die skool, is belangrik vir die ontwikkeling van reseptiewe-taalontwikkeling.
Ekspressiewe taal volg na maande en selfs jare se ontwikkeling van reseptiewe taal, want soos Alfred Tomatis sê, die mond kan net produseer wat die oor kan hoor. Ekspressiewe taal word in twee groepe verdeel:
In die kleuterskool word taal spelenderwys ontwikkel met liedjies, rympies, stories, temabespreking, taalkringe ensovoorts.
Dr Melodie de Jager, die stigter van BabaGim®, sê: “Wanneer ‘n kind speel, ontdek hul menigde dinge vir hulself. Hulle het pret en leer “toevallig” in die proses.” Die Engels stel dit ‘n rapsie duideliker, “When a child plays, they discover learn”.
Die teenoorgestelde hiervan is wanneer ‘n kind aanhoudend instruksie ontvang en voorgesê word wat hul moet doen. Om ‘n kind voor te sê wat om te doen is inderdaad vinniger as om die kind te lei om iets te ondersoek, maar ‘n kind het net 6 jaar om ‘n paar basiese vaardighede aan te leer! Om ‘n kind toetelaat om self ondersoek in te stel ontwikkel selfvertroue, want hy sê vir homself: “Ek kan leer en slim daaroor voel”. Om ‘n kind te wys, voor te sê en opdrag te gee, kommunikeer: “Jy weet nie. Jy het my nodig om jou te leer”, wat hom minder selfversekerd en slim laat voel. ‘n Jong, gesonde kind word gebore met ‘n leergierigheid om sy omgewing te verken, te ontdek en te leer en daarom sit hy nooit stil nie! Hy is gebore om te leer. Dit is om hierdie redes dat die vroeë jare die ideale tyd is vir ‘n kind om te ervaar hoe om prettig en stresvry te leer, terwyl hy spelenderwys voorberei vir “groot skool”.
Navorsing deur Benjamin S. Bloom bevestig die belangrikheid van hierdie eerste jare, hy noem dat 33% van alle denkvaardighede ontwikkel teen die ouderdom van 6. Om te kan dink, moet ‘n kind eers selfversekerd voel. Om selfversekerd te voel, moet ‘n kind:
Daarom neem die ontwikkeling van daardie deurslaggewende 33% tyd en vereis dit n plan van aksie.
Betree ‘n kind se speelwêreld en jy sal die plek betree waar hul hart, siel en verstand ontmoet – Virginia Axline
Volwassenes is dikwels onbewus van die spreekwoordelike gouedraad wat deur die voorskoolse program gevleg word. Leer vind nie afsonderlik van spel plaas nie. Wanneer ‘n kundige en sorgsame juffrou saam met ‘n kind speel, word baie ontwikkelingsareas aangespreek.
Die noukeurige saamgestelde temas is hoogs persoonlik tot die kind en hul onmiddellike leefwêreld. Temas moet iets wees waarby die kind aanklank vind. Hul moet kan leer en dit dadelik kan toepas.
Verder is die dagprogram so saamgestel dat die groep gonsende lyfies se energievlakke gereguleer word. Aktiwiteite varieer van rustig na prettig na wild en opwindend. Daarna reguleer die program weer die gonsende lyfies na ‘n rustiger staat met roetine en eindelik tot rus.
Is dit nie alles so slim saamgestel nie? Wat is meer? Tydens die roetine-oomblikke leer die kleintjies steeds. Hierdie ontwikkelende klein mensies leer van wag, deel, mooi maniere, goeie higiëne, opruim en verantwoordelikheid neem vir persoonlike items.
07:30 – 08:00 Ontvang kinders – Vryespel binne of buite
08:00 – 08:30 Taal/ Persepsie/ Wetenskap
08:30 – 09:35 Kreatiewe aktiwiteit
09:35 – 09:50 Opruimtyd
09:50 – 10:10 Ontwikkelingspel / musiek
10:10 – 10:20 Toiletroetine
10:20 – 10:35 Verversingstyd
10:35 – 11:45 Buitespel / vryespel
11:45 – 12:00 Opruimtyd
12:00 – 12:10 Toiletroetine
12:10 – 12:30 Storietyd
12:30 – 13:00 Huistoe gaan tyd
(Terblache, 2007)
Die eerste ses jaar van ‘n kind se lewe gaan oor soveel meer as net om inligting in te samel. Dit is ‘n goue oomblik in tyd om hul wêreld spelenderwys te ontdek en boonop verlief te raak op leer – die tipe leer waarna Carl Rogers verwys wanneer hy sê:
Ek wil oor leer praat, maar nie die lewelose, steriele, futiele, vinnig vergete goed wat in die gedagtes ingedruk word van die arme, hulpelose individu wat deur ysterbedekte bande van gelykvormigheid vasgebind word nie! Ek praat van LEER – die onversadigbare nuuskierigheid wat die tienerseun dryf om alles wat hy kan sien, hoor of lees oor petrolenjins te absorbeer om sodoende die doeltreffendheid en spoed van sy voertuig te verbeter. Ek praat van die leerder wat sê: “Ek ontdek, neem in van buite en maak dit ‘n deel van my.” Ek praat van leer waarin die ervaring van die leerder volgens hierdie lyn vorder: “Nee, nee, dis nie wat ek wil hê nie”; “Wag, dié is nader aan dit waarna ek soek”; “Ag, hier is dit! Nou is ek besig om te begryp en te verstaan. Dié is wat ek nodig het en wat ek wil weet!”
Mag elke kind hul kleuterskooljare in ‘n omgewing deurbring wat gevul is met kleur en tekstuur, rym en ritme. Want soos Gordon B. Hinckley sê:
Hê pret en lag dikwels. Moenie net die lewe verduur nie, geniet dit!
Terblanche, B. 2007. Clever Play – Play the way to brilliance. Johannesburg: Mind Moves Institute Publishing
De Jager, M. 2017. Play Learn Grow – Birth to 3. Johannesburg: Mind Moves Institute Publishing
De Jager, M. 2019. Brain development, milestones and learning. Johannesburg: Mind Moves Institute Publishing