Deur Cozette Laubser |
Het jy geweet, jou kleintjie kan net met gemak én genot leer skryf en lees indien hul:
• Hul eie lyfie goed ken
• Bewus is van die linker- en regterkante van die lyf
• Rigtings akuraat snap
• Kan STOP!
Hande op – Wie kan hierdie huisie-model onthou? Ek glo ook julle kan onthou die huisie word van onder af boontoe gebou, ne? JA! Eerste, het ons:
Fisiese ontwikkeling begin met goeie bewussyn van die lyfie. Kom ons maak gou mooi seker jou kleintjie se liggaamskaart is in plek:
Ons gaan begin deur die ore te masseer en dan die buitelyn van die lyfie te trek. Kom ons begin saam by die ore….
• Masseer die ore
• Begin by die kop en omlyn die kleintjie se lyfie
• Hou die voete vir agt tellings vas.
Kan julle onthou hoeveel keer herhaal ons alles? Dis reg, ten minste 3 keer!
Hierdie oefening ontwikkel liggaamsbewustheid, swaartekragsekuriteit en ’n positiewe selfbeeld.
Nou dat ons die brein bewus gemaak het van die lyfie en hoe hy lyk, kan ons die liggaamsdele benoem. Ons gaan eers op die kleintjie se lyfie werk en dan die liggaamsdele op Mamma se lyf herhaal.
“Hierdie is jou hare, jou oë, jou ore, jou neus, jou mond, jou tong, jou hande, jou naeltjie, jou voete!”
Kom ons kyk waar is Mamma se liggaamsdele?
“Waar is Mamma se hare, se oë, se ore, se neus, se mond, se tong, se hande, se naeltjie, se voete!”
Nou weet ons brein ons het ‘n lyfie met verskeie liggaamsdele. Nou kan ons ook vir ons brein leer van twee belangrike kante van ons lyfies – die linker- en die regterkant!
Mamma, wees asseblief kreatief en soek deur jou toedraai of mooi-maak-dinge, het jy dalk twee kleure linte? Sny asb 2 stukke van 1 kleur en 2 stukke van ‘n ander kleur. Ek gaan blou en rooi linte as voorbeeld gebruik. Die blou linte gaan aan die linkerkantste pols en enkel, die rooi linte gaan aan die regterkantste pols en enkel. Nou gaan ons mooi na die woorde van die liedjie luister en ons arms en bene saam die lirieke lig.
Mamma, ons sluit hierdie video in sodat jy die bewegings kan sien en die musiek kan hoor, maar die video is nie vir jou kleintjie nie. O nee, ons weet mos skerms is nie op hierdie ouderdom goed vir die ogies nie.
Ons lyfies is nou al goed opgewarm, kom ons verken rigtings!
Soek asb ‘n kleurvolle speelding of balletjie in jou kleintjie se speelgoedboks. Laat jou kleintjie tussen jou bene sit en weg van jou af kyk, dus kyk jul albei in dieselfde rigting. Plaas die balletjie volgens die kante van die lyfie op die grond. Na jy die balletjie geplaas het, gaan jy die kind vra om die balletjie op te tel en weer vir jou te gee.
1. Waar is links? Mooi!
2. Waar is regs? Mooi!
3. Waar is voor? Mooi!
4. Waar is agter? Mooi!
5. Waar is bo? (Plaas die bal bo-op die kleintjie se kop) Mooi!
6. Waar is onder? (Plaas die bal onder die kleintjie se boud) Mooi!
Vind asb ‘n egg shaker of marakka in jou kleintjie se speelgoedboks. Nou, gaan ons ons eiertjies/marakkas neem en ritmies saam skud. Dan gaan ek aandui wanneer ons moet STOP! Ons gaan dan ons eiertjies neer sit, ons vingers op ons mondjies plaas en sjjjjt sê.
Is julle gereed?
Skud, skud, skud, skud
Skud, skud, skud, skud
Skud, skud, skud, skud
Skud, Skud
STOP
Sjjjjjjjjt
Mooi! Kom ons doen dit nog 2 keer!
Om te kan stop, is ‘n voorvereiste vir dissipline. Het julle geweet, om te dissiplineer beteken ‘om te leer’, nie om te straf nie. Dus pas dissipline spontaan by ‘n goed ontwikkelde kind.
Magda Gerber stel dit mooi, sy verwys na dissipline as wedersydse respek tussen ouers en kind of kinders. Maak jou gesin se reëls duidelik en hou konsekwent daarby. Konsekwentheid gaan baie verder as ‘n kwaai ouer.
Nou kom ons by ons tweede lagie van die brein. Wat is sy naam?
Babas word nie met ’n verskeidenheid emosies gebore nie – hulle moet hul emosionele repertoire ontwikkel. Kan jy onthou wanneer is die sensitiewe tydperk vir emosionele ontwikkeling?
Dis reg! 14 Maande tot 4 jaar
Net soos met fisiese ontwikkeling moet daar ‘n bewussyn van emosies geskep word. Dit begin met Mamma en Pappa se entoesiasme en aanmoediging van dag 1 af. As jou baba, of later peuter of kleuter iets nuuts bemeester, klap sommer hande en wys met groot oorgawe hierdie is iets om te vier! Moedig sommer herhaling ook aan: “Mooi so my lief! Wys my asseblief weer?”
Emosionele bewussyn begin ook deur jou eie én jou kind se emosies te benoem. “Die son skyn, dis ‘n nuwe dag, dit maak Mamma sommer baie gelukkig!”. OF “Oeeee ek is sommer baie opgewonde, vandag is Danielle se verjaarsdagspartytjie!”. OF “Ai, Mamma se hart is vandag sommer seer, ek verlang na Oupa, ek wens ons kon gaan kuier.” OF “A-nee-a, ons breek nie mekaar se goed nie, nou is Pappa sommer kwaad.”
Onthou tog julle, hierdie is ‘n tyd van die eie ek vestig. Alhoewel selfsugtige gedrag, ongemaklike gedrag is, is dit nie noodwendig onvanpas nie. Met jou volgehoue liefde en leiding sal jou kleintjie in tyd leer om te wag, te deel en beurte te maak. Hierdie is alles emosionele vaardighede wat baie makliker volg wanneer die kleintjie ‘n goed ontwikkelde lyfie het wat kan STOP! Boekies wat met sorg gekies word, leer vir jou kleintjie so baie van emosies, vriendskap, goeie- en slegte tye.
As storietyd nog nie deel is van jou aandroetine nie, wil ek dit regtig aanmoedig. Dit is die maklikste en lekkerste geleentheid vir kwaliteit-tyd as gesin, net voor slaaptyd.
Soos jou kleintjie ouer word kan jy ook maar dophou, hul gaan haal self die boekie van die rak af wat hul emosionele toestand op daardie tydstip weerspieël. Wat ‘n wonderlike kykie in hul binnewêreld!
Die laaste stukkie van die legkaart is:
Kan jy onthou wanneer is die sensitiewe tydperk vir kognitiewe ontwikkeling?
Dis reg! 4 – 11 Jaar.
Hou jou linkerhand voor jou met die palm wat vorentoe wys. Kyk na jou hand: As die duim van jou linkerhand wegbeweeg van die ander vingers, vorm dit ’n hoofletter “L” vir die Engelse woord “Language”, wat ons daaraan herinner dat duimskeiding ekspressiewe taalontwikkeling aankondig.
Die grootste bydrae wat jy nou al vir jou kind se kognitiewe ontwikkeling kan maak, is om ‘n goeie taalrolmodel te wees. Praat met jou kind, wys na mense/diere/voorwerpe… Alles! Benoem dit en verduidelik hoe dit werk. Hul verstaan ontsettend goed nog lank voor hul kan praat. Jou kind se woordeskat is ook die begin van lees.
As praat en die gebruik van baie woorde vir jou as volwassene nie maklik kom nie, wees gerus. Boekies kan goed ingespan word vir woorde, emosies en idees. Ouderdomsgepaste boekies kan ‘n enorme hulp wees!
Onthou tog, wanneer ons in BabaGim ‘n boekie aanbeveel is dit nie om die kind te leer lees nie. Nee, dit is bloot om kwaliteit-tyd tussen ouer en kind te bevorder, goeie ouditiewe (gehoor) vaardighede te ontwikkel en om daardie emosionele repertoire uit te brei. Natuurlik is mooi prentjies en ‘n relevante tema, ‘n móét!
Kyk mooi na die voordele van daagliks saam lees:
Daarsy Mamma, nou het jy weer ‘n handjie vol idees om jou kind, of kinders, se ontwikkeling aangaande te ondersteun. Dankie vir jou toewyding!