


Hierdie artikel volg na ’n radio-onderhoud tussen Carla Burg en Cozette Laubser op Pretoria FM. Cozette is ‘n mamma van twee en die direkteur van BabyGym Institute International.
Die woord dissipline is afkomstig van ’n Latynse woord wat beteken “om te onderrig”. Dit verwys dus na die proses om ’n kind ’n stel reëls of grense te leer en, in die proses, karakter te vorm.
Dit is elke ouer se absolute voorreg en verantwoordelikheid om hul kinders te dissiplineer, maar dit beteken in werklikheid iets heeltemal anders as om bloot net te straf. Dit is ’n proses wat oor jare vir die kind leer hoe grense lyk wat ons fisies, emosioneel en psigies veilig hou ~ Cozette Laubser
In die vroeë kinderjare is dissipline grootliks so basies soos: “Wat is veilig?” en “Wat is onveilig?”
’n Kind word nie met hierdie stel reëls gebore nie en dit moet oorgedra en aangeleer word.
Soos die kind ouer word, het dissipline later weer meer te doen met wat sosiaal aanvaarbare gedrag is en wat nie. Byvoorbeeld: ’n mens sê asseblief en dankie sonder uitsondering.
Vir die tiener strek hierdie gewaarwording van grense heelwat verder as net die gesin se persoonlike huisreëls. Dit sluit onder andere in wat binne ’n bepaalde kultuurgroep, en later die samelewing, aanvaarbaar is en wat nie.
Daar is ’n baie belangrike onderskeid!
Hier is ’n voorbeeld: ’n Jong kind van drie is saam met hul ouers op die lughawe. Die kind wag nou al baie lank en baie geduldig op die bankie by die terminaal, maar nou raak die wagtyd werklik lank en die behoefte om gillend rond te hardloop neem oor.
Is die kind nou stout, of gee die kind eintlik maar net uiting aan ’n ouderdomsgepaste fisiese behoefte?
In hierdie geval is dit ’n doodnormale, ouderdomsgepaste fisiese behoefte. Ja, die gedrag kan steurend vir ander passasiers wees, en natuurlik sal betrokke ouers hierdie energie moet kanaliseer, maar op die ou end bly dit ’n ouderdoms- en ontwikkelingsgepaste behoefte om te beweeg en te speel.
Ek het onlangs gelees: “’n Kind is eers honger, dan moeg en dan stout,” en dit is so waar!
As jy jou kind se gedrag onmoontlik vind, is dit altyd ’n goeie idee om eers te vra:
Ja, beslis!
In ons werk in vroeë kinderontwikkeling verwys ons graag na die Triune Brein-teorie. Al drie lae van die brein is met geboorte teenwoordig, maar die lae ontwikkel nie op dieselfde tyd of teen dieselfde tempo nie. Elke laag van die Triune Brein het spesifieke funksies en eienskappe wat tydens ’n bepaalde ouderdom die ontwikkelingsprioriteit word.
Kinders ontvou eers fisiek, dan emosioneel en sosiaal, en daarna intellektueel. Dissipline skakel baie direk met die kind se ouderdomsgepaste ontwikkelingsvermoë en behoort dit te weerspieël.



©Kopiereg BabaGim Instituut Internasionaal
Dit is nie die enigste tyd waarin hierdie areas ontwikkel nie, maar dit ontwikkel op hierdie ouderdomme redelik moeiteloos en vinnig. Daarom wil ’n mens hierdie vensterperiodes optimaal benut.
Om dit nou op die lughawevoorbeeld toe te pas — vir ’n kind van drie jaar oud, wat nog ’n groot behoefte aan fisiese, emosionele en sosiale ontwikkeling het, is dit gepaste gedrag. Vir ’n kind van 12 is dit nie gepas nie, en ’n mens sal die gedrag vinnig en ferm aanspreek en verwag dat die kind ook toepaslik reageer.
Met ’n tiener kan ’n mens konflikareas reeds breedvoerig bespreek. Op hierdie ouderdom behoort hulle ook ten volle te verstaan dat hulle verantwoordelikheid vir hul dade en gedrag moet neem.
Byvoorbeeld: ’n Groep seuns speel krieket naby geparkeerde motors. Hulle weet goed watter skade ’n krieketbal aan ’n motor se bakwerk kan aanrig. ’n Bal tref ’n motor en die skade is gemaak.
Dit was dalk nie opsetlik nie, en daar is dalk dadelik berou, maar die feit van die saak is dat hul goed weet mens speel nie naby aan karre nie. Hier gaan die gesprek oor watter planne saam gemaak kan word om die skadebedrag te betaal.
Daardie drie woorde is die essensie van dissipline in ’n gesin. En die kans dat ’n mens ’n kind werklik gaan moet straf wanneer dit in plek is, is minimaal.

Kom ek verduidelik:
Veiligheid en geborgenheid is elke mens se primêre behoefte. Wanneer ’n ouer en kind opreg lief is vir mekaar, pret saam het, goeie kinderstorieboeke saam lees, en daar wedersydse waardering en respek is, volg gehoorsaamheid meestal vanself — omdat die kind weet hoe lekker ʼn positiewe verhouding is.
Nou snap die kind iets baie mooi en fundamenteel: hulle leer om met integriteit op te tree, waar die motivering om die regte ding te doen van binne af kom.
Kommunikasie is alles! Leer vir jou kind jou en jou gesin se reëls. Hou ook in gedagte dat ’n mens eers ’n kind aan ’n reël kan hou wanneer die reël duidelik neergelê is.
Byvoorbeeld: Ons gesin eet om ’n tafel. Vrugte kan van tyd tot tyd in ’n ander vertrek of op die stoep geëet word, maar kos wat met ’n mes en vurk geëet word, word by die eetkamertafel geëet.
Hoekom doen ons dit so? Want dit verseker vir ons gesin waardevolle geselstyd en help ons om werklik saam te eet, eerder as om net kitskos in die hardloop te gryp.
Noudat die reël gekommunikeer is, weet almal daarvan en word dit konsekwent toegepas.
Konsekwentheid volg so mooi op kommunikasie: “Laat jou ja, ja wees en jou nee, nee.” Dit is nie interpreteerbaar nie en dit is nie onderhandelbaar nie. Ouerpare moet ook eensgesind hieroor wees.
Byvoorbeeld: In ons huis beheer kinders nie die interkom of die oop- en toemaak van die toegangshek nie — of ouers nou by die huis is of nie. Die gesin se veiligheid en sekuriteit is belangrik, en dit is nie iets waarmee ons speel nie.
Maar, dit is net so belangrik om duidelik te kommunikeer waar kinders mág help en waar hulle hul vryheid en groeiende verantwoordelikheid kan oefen.
Waarmee kan kinders wel vir Mamma en Pappa help? Dit kan byvoorbeeld insluit:
Wanneer ’n mens na ekstreme gevalle van lyfstraf kyk — veral die tipe wat aan mishandeling grens — is daar baie beslis fisiese en emosionele letsels wat lewenslank by daardie kinders, en later grootmense, bly.
Die mens is deel van die soogdierspesie, en sentraal tot ons wese is die behoefte om binne ons gesin veilig en geliefd te voel. Wanneer ons gereeld en aanhoudend angs, vrees en pyn ervaar, vorm dit ons psige baie direk en bedraad dit ons brein op ongewone en ongesonde maniere.
Langtermyn-implikasies sluit angs, depressie, aggressie en selfs permanente geestesgesondheidsprobleme in. Ons sien dit so dikwels in die nuus: die kind wat verkeerd hanteer is, word ongelukkig baie keer die volwassene wat later weer ’n ander onskuldige kind verkeerd hanteer.
Daar is altyd alternatiewe, maar dit is beslis nie kitsoplossings nie.
Een baie effektiewe strategie is om van kleins af vir jou kind te leer om fisies te stop. Dit begin reeds in die eerste paar maande van ’n baba se lewe, wanneer kleintjies mobiel begin raak en hul verkennende handjies op allerhande onveilige plekke wil indruk — in muurproppe, in die waaier, die verwarmer of die wildsheining op die plaas.
Om vir jou kind te leer watter oppervlaktes veilig is en watter nie, is ’n uiters belangrike eerste les in dissipline.

Gebruik die volgende om die jong kind te leer om te stop:
Van ongeveer 6 tot 18 maande absorbeer kleintjies ’n magdom reëls. Daarom moet ’n mens regtig wakker wees en die grense ferm en konsekwent herhaal. Ek gaan eerlik wees — hierdie fase is uiters uitputtend! Maar belê asseblief die tyd en moeite hier; dit is absoluut die moeite werd.
Tussen 18 maande en 3 jaar ken hulle nou meestal die basiese reëls wat hulle dag-tot-dag teëkom. Hulle gaan dikwels die grense toets — dis goed so en eintlik ’n teken van intelligensie. Wees gereed daarvoor en hou daardie grens, maar met goeie kommunikasie en konsekwentheid is die grondwerk reeds gelê. Hoera!
Kort voor lank sien ’n mens ook hoe die kleintjies hul reëls (baie ernstig en met groot oortuiging!) aan hul maatjies oordra en selfs hul ouers by die reëls hou. Kyk maar na 8 jariges op die sportveld. Daar is niemand wat die reels van die sport beter ken en toepas as hulle nie!
Wanneer beide die ouer en kind die vermoë ontwikkel om die STOP-knoppie te druk, eskaleer situasies aansienlik minder.
Onthou tog dat geen ouer, kind of gesin perfek is nie, en dat ’n mens selfs met die beste intensies foute gaan maak, maar met konneksie en kommunikasie kan baie opgelos word.
Daai is die goue vraag. In die beste van gesinne trek die stoom ook maar gereeld uit die ore uit!

Ek het onlangs ’n kenner hoor sê: “Moenie vir iemand sê om nie kwaad te word nie; leer hulle hóé om kwaad te word,” en dit was vir my baie sinvol.
Emosies kom in splitsekondes. ’n Mens kan nie altyd bepaal hoe jy innerlik oor iets voel nie, maar jy kan baie beslis jou eie STOP-knoppie ontwikkel en bepaal hoe jy uiterlik optree.
In ons gesin moes ons leer om nie net by ’n kamer in te storm en dadelik te begin skel nie. Ons vra nou eerder tydens ’n konfliksituasie: “Wat het hier gebeur?” En ek moet erken — die antwoorde maak baie keer verbasend baie sin.
Teen die tyd dat elke kind hul kant van die saak gestel het, is daar dikwels reeds weer redelike orde. Óf, in ander situasies, raak dit sommer baie duidelik dat hulle eenvoudig in die bed moet kom en slaap.
Probeer om balans te vind tussen konneksie en dissipline:
Dit is natuurlik ’n veralgemening, maar ons het almal sterkpunte en ons het almal groei-areas.
’n Intensionele ouer sal altyd die vrug van hul betrokkenheid in hul kind sien — en dit is só die moeite werd! Uitputtend, ja, maar absoluut die moeite werd.